News

Catherine Robson-bewerings: Kokkerotte en gemors glo in kinderhuis-kinders se kos

VEREENIGING. - 'n Video waarin drie meisies van die Catherine Robson-kinderhuis beweer dat hulle die vorige aand buite moes slaap, dat die kos wat hulle kry kokkerotte, miere en skuurdraad in het en dat kinders glo deur die huismoeders geslaan en gevloek word en ook in die gang gesleep word, is al meer as 30 000 gekyk.

Die video is gister op Facebook gelaai en vandaar is dit links en regs gedeel. Die meisies, van wie twee minderjarig is, stel hulself voor en dan sê ‘n vrou in die agtergrond hulle moet vertel wat by die kinderhuis aangaan. Hulle vertel ook dat al hul voorregte van hul weggeneem word en dat hulle nie toegelaat word om enigiets te doen nie.

Talle Facebook-gebruikers het intussen hul mening gelug. Baie is van mening dat dit sommer wolhaarstories is, terwyl ander vuur spoeg omdat die meisies in hul skoolklere die video gemaak het. Daar is ook ander wat graag die meisies wil help en glo daar steek waarheid in hul bewerings.  ‘n Paar mense het ook gevra waarom die kinders giggel in die video en nie huil nie.

Volgens ds. Danie Kruger, bestuurder van die kinderhuis, neem hulle kennis van die video wat tans op sosiale media versprei word.  “Die voorval is by die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling aangemeld. Die Departement is versoek om ‘n onafhanklike ondersoek doen, waarby lede van die adviesraad van Catherine Robson KJSS ook betrek sal word. Die bestuur van die Kinder- en Jeugsorgsentrum sal daarna op die aangewese optrede besluit,” sê hy.

Ds. Kruger sê verder in terme van Artikel 74 van die Kinderwet is dit in die kinders se eie belang dat hul identiteit nie op sosiale media bekendgemaak word nie.  “Ons doen ‘n beroep op die publiek om nie die video verder te versprei nie.  Ons  beskou die video as lasterlik en is in die proses om regsadvies in te win. Persone wat op sosiale media lasterlike kommentaar lewer, kan hul moontlik blootstel aan regstappe.”

Die twee oudste meisies wat in die video verskyn, is tans in die sorg van hul ouers.

Hier is van die kommentaar wat by die video op Facebook geplaas is:

Skermgreep: Facebook
Skermgreep: Facebook

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

 
Back to top button