
VANDERBIJLPARK. – Vyftien insittendes waarvan dertien kinders het vanmiddag ‘n noue ontkoming gehad toe die bestuurder van Tjokkerland kleuterskool se bussie uitgeswaai het vir ‘n vragmotor wat die stopstraat verontagsaam het en die bussie omgeslaan het.
Die ongeluk het op die kruisings van Hertz boulevard en Becqueralstraat gebeur. Volgens Russel Meiring van ER24 het die ongeluk ongeveer 13:15 plaasgevind. ER24 paramediese personeel het by aankoms al die insittendes buite op die sypaadjie gekry. Altwee volwassenes en een kind is op die toneel vir ligte beserings behandel en na die hospitaal geneem vir behandeling. Al die ander kinders is ongedeerd. Me. Sharon Gordon, hoof van Tjokkersland het op die toneel aan Vaalweekblad gesê dat sy dankbaar is dat daar nie ernstige beserings was nie.
Die polisie ondersoek die oorsaak van die ongeluk.




