VEREENIGING. – Dit was ‘n hartseer dag vir familie en vriende van Jan Hendrik Mulder (57) toe hy op 8 Julie noodlottig in ‘n gru-botsing beseer is.

Hy en nege kollegas was onderweg na Swaziland toe die minibus waarin hulle gery het, kop-teen-kop met ‘n bakkie gebots het. Die ongeluk het omstreeks nege uur naby Warburton tussen Carolina en Amsterdam plaasgevind. Nog drie ander is dood en ses ernstig beseer.
Jan Hendrik was ‘n elektrisiën by die Premier Foods-groep. Hy het in Risiville grootgeword en skoolgegaan by Laerskool Risiville, waarna hy sy hoërskoolloopbaan aan Hoërskool Drie Riviere voltooi het. Op skool het Jan Hendrik in judo uitgeblink.
Na hy getroud is met sy lewensmaat, Drienie, het hulle na Buyscelia net buite Vereeniging verhuis. Die Mulder-egpaar het ‘n seun, Loualdan (29). Jan Hendrik se familie beskryf hom as ‘n man vol grappies wat altyd ‘n tjoppie gereed gehad het vir die kole. Hy was ook altyd gewillig om ander te help en sou enigiets vir sy gesin doen. Hy het ‘n groot liefde vir sport gehad en dit geniet om rugby te kyk.
Familie van Jan Hendrik bedank graag elkeen wat hulle in die moeilike tyd ondersteun het, asook Premier Foods en Martie van AVBOB wat hulle met die begrafnisreëlings bystaan. Sy begrafnisdiens vind op 17 Julie om 10:00 by die Nederduits Hervormde Kerk in Drie Riviere-Oos plaas.



