Midvaal spog met tweede parkrun
Wat is nou lekkerder om op ‘n Saterdagoggend bietjie vars lug in te asem en sommer bietjie oefening ook in te kry?

VAAL MARINA. – Wat is nou lekkerder om op ‘n Saterdagoggend bietjie vars lug in te asem en sommer bietjie oefening ook in te kry. Vergeet van die week wat verby is en die naweek wat voorlê?
Met Meyerton parkrun goed op dreef, spog Midvaal nou met nog ‘n Parkrun wat op 28 April met 369 deelnemers by Vaal Marina afgeskop het.
Daar is tans twee parkruns in Midvaal en beplanning vir die derde een is reeds besig.
Vir die wat nie weet nie… die parkrun is ‘n gratis 5km roete en jy kan besluit of jy hardloop, draf of stap, maar een ding is seker… dit is vet pret!
(Let wel, dis parkrun met ‘n kleinletter “p” – die organiseerders sê dit is omdat dit onpretensieus is – jy hoef nie deftige drafklere te hê of ‘n uitblinker-atleet te wees nie. Jy kom soos jy is en jy pak die roete op jou eie tempo aan – ongeag of jy wil stap of draf. Word deel van die parkrun-kultuur, raak ontslae van jou week se stres en kweek ‘n gesonder leefstyl aan. En ontmoet terselfdertyd sommer ‘n lekker klompie nuwe vriende!)







