LifestyleLocal newsNews

Nywerhede doen hul deel: Kruppstraat is weer heel

‘n Paar van die sakelui in Kruppstraat, NW7, het onlangs onder aanvoering van Johan Brits van All-In-One Engineering hande gevat en R10 000 ingesamel om ‘n paar reuse-slaggate in hul straat te herstel

 
Retha Fitchat

VANDERBIJLPARK. – Sakelui kan aanhou terugsit en kla oor die Vaaldriehoek se slaggate, of hulle kan saamspan en ‘n positiewe verskil maak. Dít is die standpunt van eienaars van fabrieke en sakeondernemings in Vanderbijlpark se swaarnywerheidsgebied.

‘n Paar van die sakelui in Kruppstraat, NW7, het onlangs onder aanvoering van Johan Brits van All-In-One Engineering hande gevat en R10 000 ingesamel om ‘n paar reuse-slaggate in hul straat te herstel. Sommige van die slaggate het reeds oor die helfte van die pad gestrek en was so diep dat dit groot skade aan vragmotors en ander voertuie kon aanrig.

Die sakemanne het Tosas se “Pothole Patch” aangeskaf en ‘n materiaal, bekend as SS60 is as voorbereiding gebruik. ‘n Paar werknemers van All-In-One is deeglik touwys gemaak en die groot werk kon begin.

Die pad is nou herstel en weer in ‘n piekfyn toestand. Volgens Johan is die onderhoud ‘n aaneenlopende proses en sakelui van die omgewing sal weer inspring en die pad regmaak as gate weer begin vorm.

* Kruppstraat is vernoem na ‘n baie ou familie uit Essen, Duitsland, wat ook energieke planmakers was. Die Krupps se familiegeskiedenis strek terug tot 400 jaar gelede, toe hulle as ystersmede bekend geraak en naam gemaak het met hul produksie van staal, artillerie, ammunisie en ander wapens.

Die familiebedryf, bekend as Friedrich Krupp AG, was aan die begin van die 20ste eeu die grootste maatskappy in Europa.

Fabriekeienaars en sakelui van Kruppstraat in NW7, Vanderbijlpark, het onlangs geld ingesamel om die slaggate in hul straat te herstel. Hier is twee werknemers van All-In-One Engineering besig met die taak. Ander sakeondernemings wat tot die projek bygedra het, is Krupp Engineering, RHI Refractories, J&L Engineering, NW7 Voer & Graan, D&S Fast Foods, Afrikano en Ikhaya Hardware.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

 
Back to top button