Local newsNews

Hart eis voormalige Vaalweekblad-kollega

‘n Hartaanval het op 20 Julie die lewe van ‘n geliefde oudwerknemer van MooiVaal Media geëis

Retha Fitchat
‘n Hartaanval het op 20 Julie die lewe van ‘n geliefde oudwerknemer van MooiVaal Media, mev. Santie de Kok (60), geëis.
Wyle mev. De Kok, wat in Vanderbijlpark grootgeword en skoolgegaan het, was vir etlike jare in die 1980’s en vroeë 1990s as hoof van Vaalweekblad en Ster se geklassifiseerde advertensie-afdeling aan MooiVaal Media verbonde.
Vaalweekblad en Ster se personeel wat destyds saam met haar gewerk het, onthou haar vir haar sprankelende persoonlikheid, haar genotvolle humorsin en haar bekwaamheid in haar werk.
Nadat haar man. Desmond, in 1989 oorlede is, het sy hul dogter Anesia, toe ‘n kleuter van twee jaar, alleen grootgemaak en nooit weer getrou nie. Sy het die afgelope jare as ‘n belastingkonsultant in Montana in Pretoria gewerk, maar sterk kontak met haar vriende en familie in die Vaaldriehoek behou.
Volgens Anesia (31), ‘n ouditeursklerk, is sy en haar ma die naweek van 20 Julie na familie in Brits, waar hulle die naweek sou deurbring.
Hulle het die aand nog saam op die bed gelê en gesels toe mev. De Kok skielik ‘n hartaanval gehad en gesterf het. Die verassingsdiens is verlede Vrydag vanuit die Ewige Lig Kerk in Montanapark, Pretoria, gehou.
“My ma was nie net my ma nie. Sy was my vriendin met wie ek alles kon deel. Ek sal haar glimlag en grappies vir altyd mis,” sê Anesia.
Wyle mev. De Kok word buiten Anesia ook oorleef deur haar suster, Adri Struwig, en twee broers, Louis en Daan Minnaar en hul gesinne.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

 
Back to top button