Local newsNationalNews

Solidariteit-lede begin more (Maandag) staak by Sasol

Lede van Solidariteit begin Maandag by Sasol staak oor die maatskappy se personeelaandeleskema wat wit werknemers uitsluit

 

Lede van Solidariteit begin Maandag by Sasol staak oor die maatskappy se personeelaandeleskema wat wit werknemers uitsluit. Dit gaan die eerste keer in Suid-Afrika se geskiedenis wees dat wit werknemers oor rasse-uitsluiting staak. 89% van die Sasol-werkers van Sasolburg en Secunda het ten gunste van die staking gestem.

Sasol het onlangs ʼn nuwe personeelaandeleskema, Khanyisa, bekend gemaak. Ingevolge die skema is wit werknemers asook buitelanders van dié tienjaarskema uitgesluit. Khanyisa volg op ʼn vorige skema, Inzalo, wat wel wit werknemers ingesluit het. Inzalo word nou in die eerste fase van Khanyisa afgesluit. In die tweede fase, wat die nuwe skema vir die volgende tien jaar gaan wees, word wit mense egter uitgesluit. Sasol het dus ʼn geskiedenis van insluiting gehad, maar het nou ʼn toekoms van uitsluiting.

Volgens dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, beteken die nuwe skema in praktyk dat ʼn Sasol-werker wat 30 jaar by Sasol werk, niks kry nie en iemand wat drie maande by Sasol werk, kry aandeelwaarde van R500 000. Die konsepmynbouhandves bepaal ook dat wit werknemers nie uitgesluit mag word van personeelaandeleskemas nie. Sasol se skema druis dus selfs lynreg in teen die mynbou-bemagtigingshandves en die algemene praktyk by myne.

Die staking begin Maandag met verskeie protesaksies. Dit sal opbou na Woensdag wanneer ʼn nasionale dag van steun vir die Sasol-werkers gehou sal word. ʼn Volledige staking begin Donderdag met ʼn massasaamtrek van die gemeenskap by die Secunda-aanleg en die Sasol-steenkoolmyne. Die fokus gaan dan na Sasolburg verskuif en later gaan beide aanlegte en die Sasol-steenkoolmyne gesamentlike aksies hou.

“Ons het reeds vir drie weke se aksie beplan. Ons gaan egter slim staak. Ons 6 300 lede is hoogs opgeleide werknemers wat strategies vir Sasol van groot belang is. Ons beplan om daagliks ʼn ander deel van Sasol af te skakel. Ons beplanning is strategies en baie fyn gedoen. Ons het die kennis en invloed om dit te doen,” sê Hermann.

Solidariteit beplan om Secunda Donderdag toe te maak. “Ons kry oorweldigende steun uit die gemeenskap. Ons verwag dat honderde mense uit die gemeenskap saam met die Sasol-werkers gaan deelneem aan ʼn massasaamtrek. Daar is selfs besighede wat gesê het hulle gaan toemaak sodat hulle kan deelneem.”

Solidariteit gaan Woensdag honderde memorandums van steun vir die Sasol-werknemers by verskeie maatskappye oorhandig. Werknemers by onder andere Eskom, Telkom, Denel, verskeie myne, ArcelorMittal, die SAPD, landboukoöperasies, lugvaartmaatskappye en vele meer gaan Woensdag memorandums oorhandig. Een van die grootste oorhandigings gaan by Sasol se aanleg in Sasolburg wees.

Solidariteit doen ook ʼn beroep op Suid-Afrikaners om eerskomende Woensdag nie Sasol-petrol in te gooi nie ter ondersteuning van die Sasol-werknemers. Mense word ook aangemoedig om dié dag blou aan te trek.

Intussen het Solidariteit by Nedlac aansoek gedoen sodat al sy lede in solidariteit met die Sasol-werknemers op een dag wettige protes by honderde werkgewers in Suid-Afrika kan aanteken. Nedlac het egter geweier om toestemming te gee en Solidariteit beplan om volgende week hof toe te gaan om die besluit van Nedlac te laat hersien.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

 
Back to top button