LifestyleLocal newsNationalNews

Motoriste het rede om nors te raak

"Ek gaan jou ignoreer, want ek is besig om te kyk vir ander idiote agter stuurwiele wat met hul selfone besig is en op hul beurt dalk die verkeerslig of stopteken gaan ignoreer of in my gat vasry"

Vaalweekblad-leser “Sparky van Vanderbijlpark” skryf na aanleiding van Vaalweekblad (3 Oktober) se voorbladberig “Ramparty eindig in pyn”:
Soms is ek ‘n nors, geïrriteerde motoris wat zombie-agtig voor my uitstaar terwyl ek agter geslote deure en vensters sit en warm kry in die strate van die Vaaldriehoek. Ek wonder dikwels, hoekom?
Dalk omdat ek nie by besige kruisings gekonfronteer wil word deur maters wat blykbaar besig is met ‘n sogenaamde rampartytjie nie? Kan hierdie spulletjie nie maar hul sogenaamde partytjies (suipsessies) êrens by die huis begin, geniet en eindig nie? Ek het julle regtig nie in my lewe nodig nie. Julle is nie snaaks nie, ek kry jou nie jammer nie, ek gaan nie vir jou geld gee nie. Ek gaan jou ignoreer, want ek is besig om te kyk vir ander idiote agter stuurwiele wat met hul selfone besig is en op hul beurt dalk die verkeerslig of stopteken gaan ignoreer of in my gat vasry.
Terselfdertyd moet ek seker maak my motor se deure en vensters is gesluit, want ek probeer my bes om nie gekaap of beroof te word nie. En ek wil ook nie enige avokadopere of selfoonlaaiers koop nie. Régtig nie, baie dankie.
Natuurlik het al hierdie aksies voordele, want dit gee my die geleentheid om oogkontak te vermy met die bedelaar en sy storie op die stukkie karton. Ek kry egter nooit genoeg tyd om sommige van die langer boodskappe te lees nie, want hier êrens op die wit streep moet ek ook kyk vir nog ‘n mens op sy knieë wat in die niet staar terwyl hy ‘n hoopvolle hand uitsteek.
Ek gee nie geld nie, want net ‘n entjie verder waar ek gaan parkeer – op enige plek in die Vaal wat net halfpad soos ‘n parkeerplek lyk – is daar sowaar nog ‘n mens wat in my oë gaan kyk, my wys waar om te parkeer, hoe om vorentoe of agtertoe te ry, hoe om weg te trek en waar om te draai. En natuurlik gaan hy ook nog my versekerde motor, toegerus met ratslot, stuurslot, sentrale sluitstelsel, alarm en opsporingstelsel met sy lewe beskerm.
Vergewe my asseblief, dis soms maar moeilik om nie ‘n nors, geïrriteerde motoris te wees nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

 
Back to top button