LifestyleLocal newsNewsOpinions

Nuwe wetgewing oorweeg: Alle motoriste moet dalk weer praktiese bestuurstoets doen

Heelwat Vaaldriehoekse motoriste kry darem hul kaartlisensies na maande se wag

Heelwat inwoners van die Vaaldriehoek het Vaalweekblad in die afgelope weke laat weet dat hulle uiteindelik hul bestuurderslisensie-kaarte gekry het nadat sommige van hulle 4 maande daarvoor moes wag.
Baie ander, wie se kaarte nog nie uitgereik is nie en wie se tydelike lisensies reeds verval het, gaan dié Kerstyd egter onwettig moet bestuur omdat Vaaldriehoekse verkeersafdelings, soos by meeste ander munisipaliteite in die land, tot ná Nuwejaar gesluit is en nuwe kaarte dan eers gelewer sal kan word.
Nuwe bestuurders wat hul voertuiglisensietoets geslaag het, en mense wat vir hul verpligte 5-jaarlikse hernuwings van hul bestaande lisensies aansoek doen, wag normaalweg net sowat 6 weke vir hul nuwe kaarte.
Sedert Augustus het werknemers van die Driving Licensing Card Account (DLCA) in Pretoria, waar die kaarte geprosesseer en vervaardig word, egter weens ‘n loongeskil begin staak, met gevolg dat sowat 90 000 aansoeke landwyd agterstallig geraak het.
Nadat die Departement van Vervoer op 3 Desember met die stakers onderhandel het, het die werknemers ingestem om die produksie van die rybewyse te hervat terwyl loononderhandelings voortgaan.
Om dié rede kon heelwat Vaaldriehoekse motoriste wat tot 4 maande gewag het, vroeg in Desember uiteindelik hul kaarte kry. Die agterstand is egter nog lank nie ingehaal nie en baie aansoekers sal dus eers in Januarie (hopelik) hul kaarte kan kry.

* Ondanks die adinistratiewe chaos wat deur die staking veroorsaak is, oorweeg die regering nuwe wetgewing wat kan beteken dat alle Suid-Afrikaanse motoriste elke 5 jaar, buiten vir hul verpligte oogtoets-hernuwing, ook weer ‘n volwaardige K53-bestuurslisensietoets sal moet doen.

In ‘n berig wat Sondag in Times Live verskyn het, sê die Road Traffic Management Corporation (RTMC) se woordvoerder, Simon Zwane, dat dié wetgewing om verskeie redes oorweeg word. Die belangrikste is om ongelukke op die land se paaie te verminder. Hy sê motoriste vergeet mettertyd die padreëls en leer swak bestuursgewoontes aan. Dit kan teengewerk word as motoriste elke 5 jaar gedwing word om van vooraf ‘n praktiese toets vir ‘n bestuurslisensie te doen.

Sodanige wetgewing gaan waarskynlik hoofbrekens vir menige ouer voertuigbestuurders veroorsaak. Dit is ‘n bekende feit dat baie jongmense wat vir die eerste keer aansoek om ‘n bestuurslisensie doen, die praktiese toets in baie gevalle 4 of 5 keer moet herhaal voordat hulle slaag. Vaalweekblad is selfs bewus van ‘n geval waar ‘n Vaaldriehoekse meisie die praktiese toets 14 keer moes doen voordat sy geslaag het. Buiten vir ekstra koste wat dit gaan meebring, gaan dit ook beteken dat duisende méér mense as tans, die lang toue by verkeersafdelings sal moet aandurf.
Dit is ook te betwyfel of verkeersafdelings, wat reeds sukkel om die administratiewe uitdagings van die huidige stelsel baas te raak, daarin gaan slaag om die bykomende druk te hanteer as alle motoriste elke 5 jaar hertoets moet word.

Hoewel Vaalweekblad die regering se pogings ondersteun om padongelukke te verminder, is dit ons mening dat ‘n vyfjaarlikse praktiese hertoetsing van alle motoriste onbillike druk op die publiek en verkeersdepartemente se personeel gaan plaas. Werkgewers sal meer werkstyd aan personeel moet afstaan om die toetse te gaan doen en om tydrowende adinistratiewe rompslomp by verkeersdepartemente af te handel. Dit kan ook die ekonomie ontwrig as drywers van aflewerings- of swaar voertuie nie hul werk kan doen as hulle nie hul hertoetsing slaag nie. Dit gaan moontlik net tot toenemende korrupsie lei omdat meer mense gaan probeer om hul lisensies onwettig te bekom.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

 
Back to top button