EntertainmentEvents

Is metaalbedryf deur ‘reuse’ gesink?

Die Vaaldriehoek, wat swaar steun op die metaal- en ingenieursbedryf, staan by ‘n kruispad waar baie werksgeleenthede binnekort afgeskaf gaan word. Saam met die groot rolspelers kan klein,- middelslag- en mikro-ondernemings (KMMO’s) in dié sektor hulle ook maar staal vir ’n opdraande stryd. Gerhard Papenfus, uitvoerende hoof van die National Employers’ Association of South Africa …

Die Vaaldriehoek, wat swaar steun op die metaal- en ingenieursbedryf, staan by ‘n kruispad waar baie werksgeleenthede binnekort afgeskaf gaan word. Saam met die groot rolspelers kan klein,- middelslag- en mikro-ondernemings (KMMO’s) in dié sektor hulle ook maar staal vir ’n opdraande stryd.
Gerhard Papenfus, uitvoerende hoof van die National Employers’ Association of South Africa (NEASA), meen die “reuse” in dié bedryf val nou in ‘n graf wat hulle self gegrawe het: ‘n voortdurende oorgawe aan onrealistiese vakbondeise.
Hy meen wat gesentraliseerde kollektiewe bedinging betref, is die Wet op Arbeidsverhoudinge (WAV) opsetlik so opgestel dat groot sakeondernemings en groot vakbonde kon saamspan om lone en diensvoorwaardes te bepaal én om daardie besluite dan kragtens ’n ondemokratiese bepaling in die WAV op KMMO’s deur die hele Suid-Afrika af te dwing.
Hoewel 90% van ondernemings in die metaal- en ingenieursbedryf in die KMMO-kategorie val, wis die bepalings oor die verlenging van ooreenkomste in die WAV bykans alle invloed uit wat KMMO’s dalk nog gehad het om hulself teen hierdie vyandige arbeidsreëlings te beskerm.
Groot werkgewers wat die staalprys beheer, bepaal die lone van die bedryf – nie net vir hulself nie, maar ook vir mikrowerkgewers dwarsdeur Suid-Afrika. As gevolg van onderhandelinge binne hierdie partydige model het die metaal- en ingenieursbedryf ons land se duurste arbeidsektor geword. Die feit dat honderde duisende werksgeleenthede in die land reeds daarmee heen is en duisende potensiële werkers enige vooruitsig op ’n werk ontneem is, het dit voorheen nóg die reuse van die metaal- en ingenieursbedryf, nóg die magtige vakbonde gepla, meen Papenfus.
Die vernaamste gevolg hiervan het die land se grootste uitdaging geword: werkloosheid. Weens die Vaaldriehoek se afhanklikheid van die staalbedryf raak dit ons gebied soveel te meer.
Deur die ongereguleerde invoer van Chinese staal is die Suid-Afrikaanse mark uiteindelik toegegooi onder goedkoop staal. Skielik het die “reuse” die onbekostigbare en onbuigsame arbeidsbedeling, wat dekades lank verwoesting onder KMMO’s gesaai het, aan eie bas gevoel.
Die einste rolspelers wat die metaal- en ingenieursbedryf onbekostigbaar gemaak het – naamlik die groot werkgewers, hulle onderhandelaars en NUMSA – vra nou regeringshulp vir hulself. Papenfus meen dit is hoogs onwaarskynlik dat die “reuse” sal erken hoeveel skade hulle die bedryf deur die jare aangedoen het, óf sal verduidelik waarom hulle dit die mees onbekostigbare bedryf in Suid-Afrika gemaak het om in sake te doen.
NEASA se standpunt is dat die regering geen bystand aan die groot werkgewers moet verleen nie, tensy daar verseker word dat die oorheersing van die “reuse” in die metaalbedryf beëindig word en die belange van KMMO’s voortaan deel uitmaak van oplossings vir die bedryf. Regeringsbystand is ongetwyfeld nodig, maar dalk red dié soort “tough love” die staalbedryf op die lange duur. – rfichat@media24.com

Related Articles

 
Back to top button