LifestyleLocal newsNationalNews

Hoërskool Driehoek se dr. Jédri oorwin steeds deur volharding

Hy wil fisies dáár wees; aan die spits wees in ‘n mediese teater wanneer die skalpel nodig is om lewens te red

 
Retha Fitchat

VANDERBIJLPARK. – Die nuus oor die tragedie by Hoërskool Driehoek, toe ‘n betonstruktuur op 1 Februarie op meer as 20 kinders neergestort het en dood en ernstige beserings tot gevolg gehad het, het die land aangegryp soos selde tevore. Vir ‘n briljante jong mediese dokter, Jédri van der Westhuizen, was die nuus besonder ontstellend.

Jédri is nie net ‘n uitblinker-oudleerling van Hoërskool Driehoek nie, maar die voorval het ook weer aan hom bevestig dat hy die regte loopbaankeuse gemaak het. Hy wil fisies dáár wees; aan die spits wees in ‘n mediese teater wanneer die skalpel nodig is om lewens te red. In 2010, toe hy sy matriek as dux-leerling met 10 onderskeidings aan Driehoek behaal het, was hy Gauteng se toppresteerder en het ook die tweede posisie op Suid-Afrika se lys van toppresteerders ingeneem. Hy het tóé reeds aan Vaalweekblad gesê hy wil hom graag eendag as mediese dokter bekwaam omdat hy lief is vir mense en diensbaar wil wees. “Ek is hier om my Hemelse Pa se kinders te dien,” het hy destyds gesê.

Intussen het Jédri die graad MB.Ch.B. aan die Universiteit van Pretoria met hoogste lof en weer eens onderskeidings in al sy modules behaal – teorie sowel as praktyk. Jédri is tans in Kaapstad gesetel en beplan om sy nagraadse studie in chirurgie in Amerika, Londen en Nederland voort te sit.

“Ek wil ‘n spesialis wees… wêreldwyd en sonder grense,” sê Jédri, wat steeds Hoërskool Driehoek se leuse uitleef: Oorwin deur volharding. In alles wat hy aanpak, kyk hy vorentoe en Boontoe.

Reeds as kleutertjie by Kosmos-kleuterskool en later as leerling aan Laerskool Kollegepark en Hoërskool Driehoek het Jédri almal om hom se asems weggeslaan met sy onblusbare energie en prestasies op alle terreine van sy lewe. Rugby, swem, seunshokkie, 10 jaar lid van Victory Voice Kids, stigterslid en redakteur van sy skoolkoerant, CSV-kringleier, provinsiale skaakspeler, redenaar van formaat, danser in die revue-groep, interhoërdirigent, noem dit en Jédri was betrokke. Dit is natuurlik benewens sy akademiese prestasies wat hom jaar-na-jaar toptoekennings in sy graad besorg het. Op 18-jarige ouderdom het hy reeds erelidmaatskap van Vanderbijlpark en die plaaslike sakekamer ontvang uit erkenning vir sy prestasies en diensbaarheid. As universiteitstudent was dit ook nie anders nie. Buiten sy veeleisende mediese studie was hy studenteraadslid (kultuur), eerstejaarsvoog van die Mediese Fakulteit en organiseerder en groepleier van die tweejaarlikse Drommedaris-fietstoer vanaf Pretoria tot in Oudtshoorn – ‘n fondsinsamelingsveldtog ten bate van ‘n gemeenskapsdiensprojek. En Jédri het al die pad saamgetrap! Dit alles terwyl hy tussendeur help verf het aan ‘n afgeleefde psigiatriese hospitaal en sy deel gedoen het by sy kerk se sop en brood-aande vir boemelaars en straatmense op Kerkplein.

Hoewel sy energie en positiewe ingesteldheid al legendaries onder sy kollegas en vriende is, is dit sy liefde vir sy medemens wat veral uitstaan. In sy finale internjaar is hy deur sy kollegas en hospitaalpersoneel afgeneem waar hy tydens ‘n blaaskans slaaptydstories aan terminaal siek en langtermynpasiëntjies in die pediatriese sale voorlees – stetoskoop stééds om die nek. Jédri vergeet nie waar hy vandaan kom nie. Hoërskool Driehoek het hom help vorm tot die totale mens wat hy vandag is.

Hy glo die beseerdes en die families wat deur die brugtragedie by die skool geraak is, gaan die gebeure van daardie hartseer dag mettertyd verwerk en sterker anderkant uitkom, want hulle “oorwin deur volharding”. En net soos hy, weet hulle ook wie hul Anker is.

Storietyd in die kindersaal. Wanneer dr. Jédri van der Westhuizen ‘n blaaskans gedurende sy veeleisende internjaar gekry het, het hy slaaptydstories voorgelees aan pasiëntjies in die kinder-eenheid.
Dr. Jédri van der Westhuizen as oudstudent aan Tukkies en voormalige inwoner van die koshuis Sonop.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add vaalweekblad as a Preferred Source on Google and follow us on Google News to see more of our trusted reporting in Google News and Top Stories.

Related Articles

 
Back to top button