Maak reg vir nog ‘n koue nag!
Vanderbijl waarskynlik kouer as Vereeniging
Maak reg vir nog ‘n koue nag!
Vanderbijl waarskynlik kouer as Vereeniging
R. Fitchat
Die winter is hier! ‘n Koue naweek word deur die SA Weather Service vir die Vaaldriehoek voorspel, maar gelukkig lyk dit asof Vereeniging se temperatuur vannag nie tot onder vriespunt gaan daal nie. ‘n Minimum van 2 grade en ‘n maksimum van 19 word vir more voorspel.
Baie Vanderbijlparkers sê egter dit lyk vir hulle hul dorp is gereeld kouer as Vereeniging, al lê die twee dorpe teenaan mekaar. Vereeniging se temperatuur het glo laasnag (14 Junie) nie tot onder vriespunt gedaal nie, maar in Vanderbijlpark het dit wel. Baie inwoners van Vanderbijlpark het Vaalweekblad laat weet dat daar vanoggend ‘n dik laag ryp op hul grasperke gelê het.
Volgens die Weerdiens was dit laasnag op baie plekke die koudste nag tot dusver hierdie jaar. Dit was dus nie jou verbeelding as jy kouer as gewoonlik gekry het nie.
Al voorspel die Weerdiens nie ‘n minustemperatuur vir Vereeniging nie, kan Vanderbijlparkers hulle waarskynlik weer regmaak vir groter koue en dalk selfs weer minus-temperature.
Maar wees nie beswaard nie… dit was nog “warm” in die Vaaldriehoek. Daar was laasnag ‘n hele paar dorpe in Suid-Afrika waar die kwik tot minus 5 grade of kouer gedaal het.
Dit sluit in:
-12.8 – Buffelsfontein (Plaas)
-9.7 – Sutherland
-6.9 – Shaleburn
-6.3 – Fauresmith
-6.1 – Aliwal Noord Plaatkop
-5.3 – Elliot & Twee Rivieren
Hopelik word die Vaaldriehoek sulke temperature gespaar, maar trek nogtans lekker warm aan en gooi maar ‘n ekstra kombers oor die bed, né!



