Groot frustrasie die afgelope week weens kragprobleme
Elektrisiën Kobus herkoppel toe 50 huise se smartmeters een vir een!

Groot gedeeltes van SE2 en SE7, Vanderbijlpark, was die afgelope week vir die soveelste keer sonder krag. In baie gevalle was sommige huise se krag in dieselfde straat aan en ander s’n af.
Hierdie keer was dit nie “smartmeter”-probleme nie. Emfuleni-munisipaliteit se antwoord aan gefrustreerde inwoners wat ingebel het om te verneem wat verkeerd was, het gehoor: “Dis ‘n faseprobleem. Ons werk daaraan”.
Ds. Anje Zeeman van NG Driehoek-gemeente in Vanderbijlpark het Donderdagaand die volgende boodskap oor die kragprobleem ingestuur:
Vanmiddag het Kobus van Rensburg, ‘n elektrisiën wat nie eers in ons area bly nie, self ondersoek ingestel en gesien daar is ‘fuses’ by die bokse gesteel. Hy het toe uit sy eie sak 9 “links” gaan koop (R280 per link) en bloot gevra as iemand wil bydra is hulle welkom. Daarna het hy die foute reggestel. Krag was aan maar die smartmeter-stelsel ‘reset’ na 24 uur en het weer afgegaan. Kobus het toe gegaan en op sy telefoon met die smartmeter-kantoor gepraat om bykans 50 (dalk selfs meer) huise se smartmeters weer 1 vir 1 te koppel.
Hy vra niks vir sy tyd of arbeid nie en ek voel net mense moet kennis neem van die mooi daad wat ‘n mede-Vanderbijlparker vir ons gedoen het.
Baie dankie, mooi aand.



