NewsNews

Vervolgingsgesag appelleer oor ‘skokkende’ vonnis

VANDERBIJLPARK. - Die direkteur van openbare vervolging wil teen die vonnis in die saak van die pa wat sy seun geskiet het nadat hy hom as ’n inbreker aangesien het, appelleer.

Coert Kruger sr. is in September vrygespreek vir die moord op sy seun, Coert Kruger jr. en het tronkstraf vrygespring. Streeklanddros Robert Button
het tydens sy uitspraak vroeër vanjaar vir Kruger gesê: “Elke keer wat jy in die spieël kyk, gaan
jy in die oë van jou seun se moordenaar kyk.”
Volgens die Gautengse woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag, Phindi Mjonondwane, sien die direkteur van openbare vervolging die uitspraak as skokkend. Sy het voorts gesê dat die vonnis wat Kruger sr. opgelê is, onvanpas is en dat die direkteur van openbare vervolging reeds aansoek gedoen het vir
verlof tot appèl.
“Die beskuldigde het op die aand van 22 Maart sy seun, Coert Johannes Kruger jr., geskiet nadat die seun op die dak van sy ouma se huis geklim het.
“Kruger het onskuldig gepleit op die aanklag van moord en verduidelik dat hy en ’n sekuriteitswag gereageer het nadat ’n alarm by sy ma se huis afgegaan het.
“Nadat hulle ’n persoon op die dak gesien het, het Kruger op hom geskiet, net om later te besef dat hy sy eie seun geskiet het.”
Die nasionale vervolgingsgesag sê landdros Button het gefouteer deur nie in sy uitspraak die nuutste regspraak in ag te neem nie. Die nasionale vervolgingsgesag verwys hier na ’n onlangse saak waar die hof ’n pa van Ennerdale, suid van Johannesburg, tot 10 jaar tronkstraf gevonnis het (opge-skort vir vyf jaar) nadat hy sy 16-jarige seun doodgeskiet het.
Sibusiso Emmanuel Tshabalala is verlede jaar in die landdroshof in Lenasia vir die moord op sy seun, Luyanda, gevonnis. Die pa het ook sy seun as ’n inbreker aangesien, toe laasgenoemde aan ’n venster geklop het terwyl die pa geslaap het.
“Die enorme verskil in hierdie twee sake, onder soortgelyke omstandighede en albei in die Gautengse-afdeling, is nie goed vir regspraak nie.
“Die regsbeginsel van stare decisis, is heilig.
“Wat in een geval geld, moet ook in die ander geld, veral wanneer die materiële feite so soortgelyk is.
“Die nasionale vervolgingsgesag kan nie anders as om hierdie uitspraak te toets nie,” sê Mjonondwane

Wyle Coert Kruger jr. en sy ma, Sharon Taylor in gelukkiger dae. Foto: Verskaf

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

 
Back to top button