Photo GalleriesSportSportSport

Meyerton-krieket vier halfeeu

Ettienne van Rensburg MEYERTON. – Die Meyerton Krieketklub gaan sy 50ste bestaansjaar met prag, praal, pret en plesier vier. Pierre Kok, voorsitter van die Meyerton Krieketklub, maak geen geheim daarvan nie. Die klub spog met nuwe paaltjies en pette tot hemde en ander versamelstukke om hul 50ste bestaansjaar met styl te vier. Kok, na wie …

Ettienne van Rensburg
MEYERTON. – Die Meyerton Krieketklub gaan sy 50ste bestaansjaar met prag, praal, pret en plesier vier.
Pierre Kok, voorsitter van die Meyerton Krieketklub, maak geen geheim daarvan nie. Die klub spog met nuwe paaltjies en pette tot hemde en ander versamelstukke om hul 50ste bestaansjaar met styl te vier.
Kok, na wie die klub se krieketveld vernoem is, is al 40 jaar by die klub betrokke en is 26 jaar die trotse voorsitter van die klub.
Die naweek van 7 en 8 Maart bereik die feesviering ‘n hoogtepunt met ‘n gholfdag en die jaarlikse Golden Oldies T20-wedstryde wat jaarliks hope belangstelling lok.
Die klub het 2019 op ‘n hoë noot afgesluit toe dit as die Sedibeng Eersteliga en Pro 20-kampioen (eerste en tweedeliga) aangewys is.
“Dit gaan bloedsweet kos, maar ons wil vanjaar weer so maak,” het Kok na Sedibeng Krieket se prysuitdeling in 2019 gesê.
Die Kok-familie het en is steeds besig om diep spore in die sport te trap. Die gesegde lui ook nie verniet ‘agter elke man is daar ‘n vrou’ nie; Kok se wederhelfte, Jianni, is getroud met krieket en sy is al die afgelope 26 jaar die tellinghouer en sekretaresse by die klub en Pierre se regterhand. Van ‘n blad en buiteveld voorberei kan jy hom en sy seuns Alex en JP ook niks leer nie. Krieket is in hulle bloed en solank daar ‘n Kok in Meyerton of die Vaaldriehoek is sal dié klub met passie gedryf word.
*Gholfdag: Die klub se gholfdag vind op 7 Maart by die Meyerton Gholfklub plaas en koste beloop R1 000 per vierbal. Die afslaantyd is 09:00. Vir besprekings kontak Pierre by 083 307 9129 of die Meyerton Gholfklub by (016) 362 0809.
*Die Golden Oldies T20-wedstryde vind op 8 Maart by die Meyerton Krieketklub op die Pierre Kok Oval plaas. Die eerste wedstryd vind om 08:30 plaas en die laaste wedstryd om 11:15. Daar sal ‘n kontantkroeg beskikbaar wees.

Pierre Kok in aksie tydens jaarlikse Golden Oldies krieketdag wat hy by Meyerton-krieketklub aanbied. Foto: Ettienne van Rensburg

Related Articles

 
Back to top button