Carnarvon se mense het nog hande en rande nodig wat kan help. Die dorp Carnarvon is maar ‘n klein gemeenskap wat grootliks afhanklik is van skaapboerdery. Carnarvon is geleë op Roete 384, sowat 147 kilometer wes Suidwes van Britstown. Loxton is so 66 kilometer suid van Carnarvon en Vanwyksvlei lê sowat 83 kilometer noord van Carnarvon. Carnarvon was nog altyd droog maar nog nooit so droog soos nou nie. Die boere sê dit het laas in 2014 se Paasnaweek goed gereën. Die uitwerking van die droogte kan jy op die mense se gesigte sien.
Glimlagte kom maklik want die mense van Carnarvon is gasvry. Maar vlak agter elke glimlag lê die trane. Die boere lyk moeg en verleë. Die meeste
van hulle voer al die laaste vier jaar hulle skape. Een van die boere vertel hoe hy gesien het dat ‘n derde van sy skape vrek in die veld, net te moeg om te kom eet.

Kerk Vaalrivier. Foto’s: Verskaf
Een van die ander boere sê: “Jy besef hoe droog dit is as jou skape jou voete onder jou uithardloop net om by die kos te kom.” Die meeste boere besit minder as 33% van hulle oorspronklike troppe skaap en selfs die kern kudde word met moeite en groot onkoste aan die lewe gehou.
Die ooms vertel van Ceres wat ‘n mislukte koringoes gestroop het en vir hulle aangestuur het vir voer vir die diere. Die tannie vertel van die bederfpakkies wat uit die Vrystaat en die Paarl gekom het en vrouens se harte kom bly maak het.
Maar dan hoor jy dat die tannie sê – My kind dit help nie ek ruik lekker en my skape kyk met smekende oë na my en ek kan nie vir hulle kos gee nie. My kind, ek het kos nodig vir my skape!
Carnarvon het water, daar is boorgate en daar is ‘n fontein wat een van die damme voed. Maar selfs die boorgate en ondergrondse water is onder druk. Een van die tannies het vertel hoe sy haar man jammer kry omdat in meer as 40 jaar op die plaas, is dit die eerste keer dat vyf boorgate droog
geloop het. Ek dink die opmerking wat my die meeste gevang het was: “my vriend, daar is nie meer steenbokkies in die veld nie, ook nie hase nie, selfs die skilpaaie is weg.”
Agt manne hier van Vaalrivier-gemeente het Saterdagoggend, 2 Februarie om 05:00 die 850 kilometer Carnarvon toe aangepak. Ons het met twee spoggerige Mahindra’s gery (dankie Mahindra) en ons het 1 000kg meel, kruideniersware, Avon bederfpakkies en broodpakkies (dankie
Premier Foods) Carnarvon toe gevat. Ons het met Bertus Steenkamp, voorsitter van die kerkraad, gereël dat ons die R80 000 vir voer sal oorbetaal aan BKB sodat die boere weer kan gaan veevoer en brandstof koop.
Saterdag het Marie Jacobs van die gastehuis Ikaia Gastehuis ons hartlik ontvang. Ons het Saterdagaand gebraai op die Steenkamps se plaas en geluister na die hartseer van die droogte. Sondagoggend om 09:30 het ek die diens gelei en ons gemeente het direk na die diens ‘n braai aangebied vir 211 mense van Carnarvon. Ons het die skape gekoop en vir hulle gebraai. Mens kan nie dink dat ‘n gemeenskap so flou, so dankbaar en tog so
diep gelowig kan wees nie.
Dit vat aan mens se hart om te hoor dat ‘n 70- jarige oom nou harder werk as nog ooit in sy lewe. Hy kan nie meer betaal vir hulp nie en moet nou self skaap werk. Voor die droogte was daar sowat 150 kommersiële boere in die Carnarvon-distrik. Daar is nou minder as 60 oor en van die 60 wat oorbly staan meestal op wankelrige bene. In die konsistorie voor die diens het Marie Jacobs die biduur gelei vir reën. Na die diens het Rachelle Steenkamp gebid dat die trane geloop het. Terwyl trane die enigste water op baie van die plase is, het die boere ons hulp nodig. Vaalrivier-gemeente het besluit ons gaan nie nou omdraai nie, ons wil aanhou help sover ons kan. As jy betrokke wil raak en wil help, kan jy my gerus kontak by neels@vrg.org.za.
Skenkings
As jy skenkings wil maak kan jy dit doen by ABSA Vaal Mall 0530580032 (Vaalrivier-gemeente). Merk dit asb. net duidelik KAROO.
Kerke uitgedaag
Ek wil die kerke challenge, ons gemeente het gegee wat ons kon en ons gaan nog gee. Hoe lyk dit Kompas, Driehoek, River of Life, Kollegepark, LCF, Moedergemeente of enige ander kerk? Ons het Sondagmiddag na ete teruggery en vir ‘n tydjie was daar ‘n stilte in die Mahindra’s. Ons het besef ons het meer gekry as wat ons gegee het. Ons siele is verryk deur goeie gasvrye Karoo mense wat met sonbrand op hulle velle en hoop in hulle harte leef. Here, hoor ons as ons bid – gee asseblief reën, wyd en lank, want net U kan!



