Eerste publikasie op 5 Februarie 2020 in Vaalweekblad se HS Driehoek-huldeblyk
Marnus Nagel (16) is op 1 Februarie 2019 lewend, maar in geweldige pyn onder die Hoërskool Driehoek se betonbrug uitgehaal en na ‘n Randse hospitaal gevlieg. Dit was duidelik dat hy ontsettend seergekry het en sy toestand was bedenklik. Vanaf die eerste minute nadat verslae oor die beseerde Marnus se toestand op Facebook geplaas is, het dié fris knaap met sy aansteeklike glimlag diep in almal se harte ingekruip. Daarvan het die derduisende lesers van regoor die land wat die plasings gedeel en boodskappe van bemoediging en gebede geplaas het, getuig. Marnus het moedig geveg, maar sy toestand het in die opvolgende dae vinnig verswak.
Dat hy die brugramp tot in daardie stadium oorleef het, was reeds as ‘n wonderwerk beskou. Almal het saamgebid vir nóg een: dat hy sou bly leef. Die Groot Besluitnemer het egter anders besluit en hom in die vroeë oggendure van 3 Februarie 2019 kom haal.
Vir sy ouers en suster is dit steeds moeilik om Marnus se dood te aanvaar. “Dit was so onnodig dat soveel kinders so seer moes kry. Ek kan my nie indink hoeveel pyn hulle onder die brug gehad het nie en ek gun dit vir niemand nie. Ons kan met trots sê Marnus se hart het aan Jesus Christus behoort en hy het so gelewe,” sê sy ma, mev. Daleen Nagel.
Op 19 November 2019 het die Nagels Marnus se eerste verjaardag weg van hulle, met seer harte herdenk. Op daardie dag skryf Ma Daleen op Facebook: “Vandag is dit jou verjaardag. Al is ons nie meer by mekaar nie, wil ek vir jou ‘n stywe drukkie stuur en sê ons is baie lief vir jou en sal altyd wees. Ons mis jou glimlag, jou drukkies, sommer alles van jou. Ons is so trots om te sê jy is ons seun. In jou kort lewe het jy die Here Jesus Christus geken en altyd probeer om soos ‘n kind van Hom te leef.”
Om sy verjaardag te herdenk het sy klasmaats die dag in Phoenix Park bymekaargekom om hulde te bring aan hul geliefde vriend – ‘n gebaar wat die Nagels baie waardeer het.“Baie dankie aan Marnus se vriende vir hul boodskappe, hul gebed en liefde. Hy was bevoorreg om vriende soos hulle te hê,” sê Daleen.



