Eerste publikasie op 5 Februarie 2020 in Vaalweekblad se HS Driehoek-huldeblyk
Retha Fitchat
“Ons het nog nie regtig vrede gevind oor Roydon se dood nie, hoewel dit seker bietjie makliker word om aan te gaan. Dis soos as ‘n mens se arm afgesny is en jy met tyd leer hoe om te operate en daarsonder saam te leef. Maar ‘n mens bly elke dag bewus van die gemis.”
Só sê mnr. Donovan Olckers oor die aanpassing ná sy oudste seun, Roydon (18) se dood in die Driehoek-brugtragedie.
“Anders as baie mans wat sukkel om oor hul gevoelens te praat, is ek nogal iemand wat kan praat. My vrou Sharlene en ek ondersteun mekaar baie en kan met mekaar praat oor ons hartseer. Dit bring bietjie verligting. Ons emosies is nog soos ‘n rit op ‘n rollercoaster – die een dag op en die ander dag af. Soms hou ons mekaar net vas sonder om te praat,” sê dié pa, wat in die ure en dae na die tragedie daarin kon slaag om met sy gebede en gesprekke, rustigheid onder ontstelde groepe Driehoek-kinders te bring. Dit alles ondanks sy eie verpletterende hartseer.
“Dis nog moeilik vir my en my vrou om na foto’s en video’s van Roydon te kyk, want daar is maar altyd trane, maar dis nie trane van wanhoop nie. Dit bly net baie swaar.”Die Olckerse hou kontak met die ander ouers wat kinders in die tragedie verloor het, maar hulle kuier nie oor-en-weer nie.
“Ons stuur net bemoedigende boodskappe vir mekaar want ons weet ons deel almal dieselfde soort hartseer.”Roydon se twee jonger broers is steeds leerlinge by Hoërskool Driehoek.
“Gelukkig ken ons ons kinders goed. “Daar is dae dat ons kinders steeds baie swaar kry oor Roydon, maar ons hou hulle dop en kan sien as hulle nie oraait is nie. Ons kommunikeer baie met hulle en gee baie liefde. Soms laat gaan ons bietjie en soms sit ons voet neer.”
Gedurende die afgelope skoolvakansie het die gesin heelwat tyd in die natuur deurgebring, wat salwend was vir hul seer gemoedere.
“Dis ‘n groot troos om te weet dat daar ‘n God is wat beter weet as wat ons weet. ‘n Ou moet maar net jou saak met die Here reghou, elke minuut van die dag. As ek nie ‘n Christen was nie, sou dit totaal wanhopig vir my gewees het om Roydon nie meer in my lewe te hê nie,” sê Donovan.



