
Die eerste Covid-19 geval in die Vrystaat is bevestig. Die 32-jarige het nie gereis nie, maar het kontak met ‘n Chinese sakeman gehad, berig Netwerk 24.
Daar is dus nou 17 bevestigde gevalle in Suid-Afrika volgens die nasinale departement van gesondheid se aankondiging vanoggend, Donderdag 12 Maart.
Met die uitsondering van die Vrystaatse geval, het al 16 ander gevalle onlangs na die buiteland gereis.
Naas die Vrystaatse geval, is daar ook nou ‘n eerste geval in Mpumalanga (‘n 27-jarige vrou), en reeds vyf gevalle in Gauteng.
Dit is wat jy moet weet van Covid-19
Coronavirusse is ‘n groot familie virusse wat siektes in diere en mense veroorsaak, onder meer verkoue.
* COVID-19 is die mees onlangs ontdekte Coronavirus wat in Desember 2019 in Wuhan, China uitgebreek het, en daar is al meer as 3 000 mense in China en meer as 400 mense in ander lande dood as gevolg van COVID-19.
* COVID-19 versprei respiratories deur middel van klein “droplets” van die neus en mond as iemand met die virusinfeksie nies of hoes. Sou die “droplets” op oppervlaktes te lande kom, iemand raak aan die besmette oppervlakte en daarna aan sy/haar mond of neus, kan dit ook só opgedoen word.
* Daar is geen entstof teen COVID-19 of aktiewe behandeling vir die infeksie nie. Antibiotika het geen effek nie, aangesien dit ‘n virusinfeksie is.
* Simptome is soos dié van verkoue en griep: moegheid, koors en ‘n droë hoes. Sommige pasiënte het liggaamspyne, neusstuwing, loopneus, keelseer en diarree.
* 80% van geïnfekteerdes herstel sonder die nodigheid van spesifieke behandeling en hospitalisasie. Ongeveer 1 uit 6 raak ernstig siek en ontwikkel pneumonie en
asemhalingsprobleme (SARS).
* Veral ouer mense, verswakte bejaardes, mense met onderliggende mediese probleme, bv diabetes en hartkwale, en dié met immuunonderdrukking (bv HIV, kanker ens.) het ‘n hoër risiko om ernstig siek te word en te sterf.
* Gesondheidswerkers wat pasiënte met COVID-19 behandel, het ook ‘n hoë risiko.
* Volgens amptelike skrywes is Mediclinic gereed vir die hantering en behandeling van ‘n uitbraak van COVID-19 in Suid-Afrika. Pathcare het ook bevestig dat hulle by magte is om die nodige diagnostiese toetse te kan doen.
* Die kriteria om iemand te ondersoek vir COVID-19 is ‘n persoon met akute lugweginfeksie met ten minste een van die volgende simptome: hoes, keelseer, kortasem en benoudheid, koors (hoër as 37,9 grade Celsius) of ‘n geskiedenis van koors en in die 14 dae voor die begin van die simptome ten minste een van die volgende: nabye kontak met ‘n bewysde of vermoedelike geval van COVID-19, ‘n geskiedenis van reis in/na/van ‘n area met bewysde siekte, was by ‘n plek waar COVID-19-gevalle behandel word, of opgeneem in die hospitaal met longontsteking van onbekende oorsaak.
Voorkomingsmaatreëls sluit in
(1) gereelde hande was met seep en water of alkoholbasis handreiniger,
(2) die dra van gesigmaskers,
(3) vermyding van besmette persone en hou ‘n afstand van ten minste een meter van iemand wat nies of hoes,
(4) maak seker goeie respiratoriese higiëne word gehandhaaf, bv bedek jou mond en neus as jy hoes of nies,
(5) gooi gebruikte sneesdoekies weg
(6) bly tuis as jy siek is,
(7) soek betyds mediese hulp en konsulteer ‘n dokter as jy koors het en hoes en sukkel om asem te haal.
Gesigmaskers
Gesigmaskers moet gedra word indien jy iemand verpleeg/behandel wat met COVID-19 besmet is of waar daar ‘n risiko bestaan om deur iemand aangesteek te word (bv. as jy reis in China of een van die ander lande of areas waar COVID-19 epidemies is). Ook as jy siek is en hoes of nies (om nie ander mense aan te steek nie). Maar jy moet ook jou hande gereeld was en nie aan die masker raak terwyl dit gedra word nie. Die masker moet jou neus en mond bedek. Vervang die masker indien dit klam/vuil/besmet is en gooi dit weg. Moenie ‘n “single use” masker meer as een keer gebruik nie.
(Inligting in die gedeelte – Dit is wat jy moet weet oor Covid-19 is verskaf deur dr. Rudolph van Wyk)



