SportSport

Vaal skoonheid bekoor gehore

  Ettienne van Rensburg VEREENIGING. – In die sag verligte ingangsportaal van die deftige Bon Riviera Hotel staan sy geduldig en wag. Geklee in ‘n swart en grys sweetpak en helder pers Nike-tekkies lyk sy soos enige hotelgas wat met hulle bagasie rondstaan, maar dit is misleidend. Sy is alles behalwe gewoon. Dit kom mens …

 

Ettienne van Rensburg
VEREENIGING. – In die sag verligte ingangsportaal van die deftige Bon Riviera Hotel staan sy geduldig en wag.
Geklee in ‘n swart en grys sweetpak en helder pers Nike-tekkies lyk sy soos enige hotelgas wat met hulle bagasie rondstaan, maar dit is misleidend.
Sy is alles behalwe gewoon. Dit kom mens vinnig agter wanneer die 24-jarige Angie le Grange jou met ‘n sprankelende glimlag groet.
Die jong laerskoolonderwyseres van Vanderbijlpark het immers iets om oor te glimlag. Sy het vroeër vandeesmaand in Secunda ‘n lewensdroom verwesenlik toe sy met haar eerste probeerslag as die Mpumalanga IFBB se beginners strandbikini-wenner gekroon is.
“Ek het in gimnasiums grootgeword en wou dit nog altyd doen. My verloofde (Christo Roos) het my aangemoedig om dit te doen. Ek het dit baie geniet.
“Ek oorweeg dit om die volgende stap te neem en aan die fiksheids-afdeling deel te neem,” sê die lewenslustige donkerkop.
Eers nadat sy verklee en in haar glinsterende groen bikini en gimklere te voorskyn kom, sink dit by mens in waaroor die bohaai gaan. Sy lyk soos ‘n Griekse Godin.
Maar moenie dat die grimering en songebruinde lyfie jou mislei nie. Sy’s ‘n intelligente boeremeisie wat hou van braaivleis, rugby en gholf speel.
“Ek probeer altyd gesond eet en my kossak gaan orals saam, maar een keer ‘n week kul ek deur te eet wat ek wil,” sê sy.
Volgens die bekende skrywer Mark Twain Golf is a good walk spoiled en hoewel sy soms dié sentiment deel, speel sy graag saam met haar aanstaande – wat ‘n beroepsgholfspeler is – ‘n paar putjies.
Haar status as bikini-amateur gaan waarskynlik vinnig ‘n gedaanteverwisseling ondergaan noudat sy deur Bob en Weave geborg word. Maar daar lê nog baie bloedsweet voor, maar sy is nie bang om skouer aan die wiel te sit nie.
“Ek oefen ses dae ‘n week vir ‘n uur lank en voor kompetisies sit ek bietjie meer tyd in. Maar dit is bietjie moeilik met ‘n voltydse werk,” gee sy te kenne.
‘n Gesonde lewenstyl is iets wat van kindsbeen by haar ingeburger is. Haar pa Percy (52) is immers ‘n voormalige SA-atleet. Hy het jare lank aan al wat ‘n marathon is deelgeneem en Angie-hulle het hom altyd vergesel.
“Omdat ek te jonk was vir die marathons, het ek aan die 5km en 10km-wedlope deelgeneem,” glimlag sy. Sy staan miskien net 1.56m in haar sokkies en weeg ‘n skrale 45kg, maar wat sy tekort skiet in statuur maak sy voor op in deurdringingsvermoë.
Onthou haar naam gerus, want dit is beslis nie die laaste sien van dié blik kantien nie

Related Articles

 
Back to top button