Meyertonner het bokswêreld aan sy voete
MEYERTON. – Jare van nou wanneer hulle op die stoep van hulle familieplaas sit en boeretroos drink sal daar met heimwee teruggedink word aan waar sy boksloopbaan begin het. Die 25-jarige Ruann Visser van Meyerton se kop draai behoorlik nadat sy loopbaan ewe skielik soos ‘n formule1-renmotor uit die kuipe weggetrek het. Hy het pas …
MEYERTON. – Jare van nou wanneer hulle op die stoep van hulle familieplaas sit en boeretroos drink sal daar met heimwee teruggedink word aan waar sy boksloopbaan begin het.
Die 25-jarige Ruann Visser van Meyerton se kop draai behoorlik nadat sy loopbaan ewe skielik soos ‘n formule1-renmotor uit die kuipe weggetrek het.
Hy het pas teruggekeer van ‘n oefenkamp in Nieu-Seeland waar hy voorberei het om eersdaags in Oostenryk as skermmaat vir die voormalige wêreld swaargewigkampioen, Wladimir Klitchko te dien. Hy vertrek eerskomende Saterdag Oostenryk toe.
Klitchko durf op 9 Julie in die Manchester Arena in Engeland vir Tyson Fury, die wêreldswaargewig-bokskampioen in hul verpligte herontmoeting titelgeveg aan. Fury het verlede November in Dusseldorf, Duitsland Klitchko se heerskappy van bykans 10 jaar beëindig en sodoende die WBA, WBO, IBF en IBO titels verenig.
Die Oekraïner het nie antwoorde vir Fury se lengte en grootte gehad nie. Die Brit het Dr. Steelhamer, soos wat Klitchko bekendstaan, uitoorlê. Dit was ’n bitter pil en sedertdien koester hy wraak teen Fury.
Dit is waar die vurige rooikop van die Vaaldriehoek inkom. Hy spog nie verniet met die langste arms (2.20cm of 87 duim) in wêreld boks nie. Volgens Ruann se pa Nefdt is dit die rede waarom Klitchko teen sy seun wil skerm.
“Dit gaan nie speletjies wees nie. Ons moes vrywaringsvorms teken en alles. Klitchko gaan nie met sy skermmaats speel nie. Hy gaan probeer om al sy skermmaats uit te slaan. Ruann is swaarder en sy arms is langer as Fury s’n. Hy is dus die ideale skermmaat vir hom,”
Net voor sy vertrek Oostenryk toe, is nog ‘n droom bewaarheid toe dit aangekondig is dat hy en Francois Botha “Die Wit Buffel” mekaar op 31 Desember gaan aandurf.
Met Vaalweekblad se besoek aan Visser-hulle se familieplaas in Meyerton het hy vertel hoe hy as 20-jarige na ‘n geveg van Botha in Johannesburg besluit het om te begin boks.
“Hy is defnitief ‘n boksheld. Maar wanneer ons in die kryt klim moet ek van al daai goed vergeet en net boks. Maar ek sal altyd respek vir hom hê. Hy het al teen baie groot name geboks,” sê Visser.
Sy loopbaan het rigting gekry toe Tinus Strydom ‘n bokspromoter van Nelspruit hom raakgesien het en Amerika toe geneem het.
“Ek kon kies of ek in Houston of Las Vegas wou bly. Ek kom van die plaas af en Vegas is nie vir my nie. Ek kan daar boks maar nie daar bly nie. Ek het toe kontrak geteken en in Houston gebly. Ek het vyf gevegte daar geveg en al vyf gewen. Ek het onder meer die Texas-kampioen geklop,” vertel hy.
Volgens pa Nefdt wat ook sy bestuurder is, floreer sy spruit wanneer hy aan die diepkant ingegooi word. “Hy was van kleins af so. Ek weet dit klink wreed, maar hy vaar op sy beste as jy hom van die berg afstoot,” sê hy.
Maar dit is darem nie so erg wat dit klink nie. Sy pa gaan hom Oostenryk toe vergesel. “Ek dink ek het die beste en moeilikste bestuurder, maar ek weet hy kyk uit na my belange,” gee Ruann te kenne.
“Nadat ek soms met hom geraas het, besef ek eers hoeveel tyd en inspanning hy insit. Hy is soms al half vyf in die oggend al op om te oefen. Boks is presies soos boer. Dit is ‘n knaende en eensame geswoeg en gesweet. Ek dink nie Ruann dink aan die geld wat hy uit boks kan verdien nie. Hy wil net homself en sy lyf druk om te kyk waartoe hy instaat is,” sê sy pa.
Benewens gimnasiumwerk, padwerk en fietsry glo Visser ook aan die “old school” oefening soos houtkap, bande sleep en skape duik. Van toewyding is daar geen tekort nie en die Vaaldriehoek kan gerus slaap dat Visser dié geleentheid met albei hande gaan aangryp.













