Rippies breëbors oor hokkiedogters se blink prestasies
Die span het in die vier groepwedstryde geseëvier deur 18 doele aan te teken, sonder om enige af te staan.
MEYERTON. – ‘n Positiewe groep lede van die Laerskool Republiek se eerste hokkiespan, wat deur hul skoolhoof, Heiné Muller, as uiters toegewyd en ‘n borrellende eenheid bestempel word, het vanjaar aan die Sedibeng-Oos-hokkieliga deelgeneem en met groot lof anderkant uitgekom.
Die span het in die vier groepwedstryde geseëvier deur 18 doele aan te teken, sonder om enige af te staan.
Na afloop van uitspele tussen Poele 1 en 2 is die harde werk van Rippies se eerste hokkiespan beloon met die titel as die Sedibeng-Oos-dogtersligawenners Kring B.
“Die span het uitmuntend presteer te midde van sterk kompetisie. Voorwaar ‘n prestasie wat applous verdien,” sê die skoolhoof.
Uit die span verteenwoordig drie spelers die 2018 Sedibeng Laerskole o/13-hokkiespan, naamlik Danieka Bekker, Chantenique Breytenbach en Cyanda Bekker. Elrisa Swiegers is verkies om die Sedibeng Laerskole o/12-dogtershokkiespan in 2019 te verteenwoordig. Nog ‘n formidabele prestasie vir Rippies!
Die skool bedank graag die afrigtingspan van Cynthia en Kobus Bekker, asook Yolandi Venter én die lojale ouers vir hul ondersteuning. “Julle is kosbaar!” sê mnr. Muller.



