‘n Duur administratiewe ‘glips’
'n Munisipale amptenaar het vir twee jaar nadat hy uit sy pos bedank het, steeds sy maandelikse salaris ontvang. Hy moet nou byna R600 000 aan die Emfuleni Plaaslike Raad terugbetaal.

Retha Fitchat – Redaksionele Kommentaar
Waar daar oorvloed is, is dit maklik om te mors – of dit nou kos, water, geld of enige ander waardevolle hulpbron is. Veral as dit ander mense se geld is – en nêrens is dié neiging meer opvallend as in ons land se regeringstrukture soos munisipale rade nie. Hoewel ons gereeld hoor hoe swaar dit finansieel met ons munisipaliteite gaan, is daar skynbaar soveel geld dat niemand agterkom as sessyfer bedrae tussen neus en oë verdwyn nie.
Hoe byvoorbeeld, kon ‘n amptenaar wat twee jaar gelede uit die Sedibeng-distriksraad bedank het, “per ongeluk” steeds aanhou om ‘n salaris van byna ‘n miljoen rand te trek voordat iemand dit agterkom?
Dit is die vraag wat mnr. Kingsol Chabalala, DA-LPW en hoof van die Emfuleni-kiesafdeling, vra nadat dit onlangs aan die lig gekom het dat mnr. Bheki Ngobese, ‘n voormalige direkteur van die Sedibeng-distriksraad, weens ‘n administratiewe “glips” vir twee jaar lank steeds sy salaris van die Sedibeng-distriksraad ontvang het nadat hy reeds in November 2014 bedank het. Hy het destyds bedank toe hy tot die heeltydse pos as streeksekretaris van die ANC in die Vaaldriehoek verkies is. Dié aanstelling kom self met ‘n stewige salaris, soortgelyk aan dié van ‘n burgemeester, maar hy het blykbaar nie agtergekom dat hy steeds sy vorige salaris betaal word nie. Dalk was hy maar net te besig om die distriksraad te laat weet om dié meevallertjie te stop.
Die gevolg is dat mnr. Ngobese die bedrag wat hy foutiewelik ontvang het, nou oor ‘n tydperk van 12 maande moet terugbetaal. Die totale nettobedrag wat hy die distriksraad skuld nadat ‘n finale rekonsiliasie, skikking oor verlof en ‘n verhaling van die raad se bydrae aan die pensioenfonds, belasting en werkloosheidsversekeringsfonds gedoen is, beloop R595 539.
Die “glips” word toegeskryf aan wankommunikasie tussen die distriksraad se finansiesafdeling en die menslike hulpbronafdeling. Iemand in die stelsel verdien sekerlik ‘n pluimpie dat die fout uiteindelik opgespoor is, maar ‘n bekommernis sal steeds in betalende inwoners se agterkoppe bly knaag: As daar één so ‘n massiewe fout kon insluip, hoeveel meer lê nie nog verskuil in die duister nie?
Burgemeester Simon Mofokeng gee die versekering dat ‘n biometriese diensregisterstelsel nou ingestel is om sulke voorvalle te voorkom. Dit is inderdaad noodsaaklik dat inwoners, van wie baie deesdae skaars hul water- en kragrekenings kan bekostig, moet weet hul swaarverdiende geld word nie aangewend om ANC-lojaliste se brood aan albei kante te botter nie.



